
Die storie van die VVA, ʼn divisie van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), en Doen en Leer begin in 2013 waar ons genooi was na ʼn demonstrasieles in Kylemore. Hier sien ons hoe dr Rose Botha ʼn kleuter binne 20 minute agt sinne laat lees. Ons was dadelik beïndruk met die program en wou meer weet.
Kinders/leerders en selfs volwassenes vind werklik baat by die program. Hulle woordeskat brei uit – hulle erken en herken woorde en die betekenis, leer hoe om dit te kan klank en skryf deur al hulle sintuie te gebruik. Omdat hulle dit geniet en dit regkry, verander dit hulle gesindheid teenoor die taal en lees en gee hulle selfvertroue.
Die Doen-en-Leer-Leesprogram sal enige leerder motiveer om te lees. Dit is ʼn program wat spreek van aksie en genot. Die sukses van dié program lê in sy eenvoud – die opleiding van opvoeders duur slegs een dag (teorie en prakties), waarna die metode
met sukses toegepas kan word.
Ons besef nou meer as ooit dat die Doen-en-Leerprogram ʼn baie goeie oplossing is vir baie lees- en leeruitdagings wat by kinders, jongvolwassenes en volwassenes is. Hoe maak ons met kinders wat hulself nou moet help wat nie met begrip kan lees of glad nie kan lees nie?
Ons gee graag van die statistiek deur wat in Die Burger in Augustus 2019 verskyn het.
- Net 14% Suid-Afrikaners lees aktief, terwyl daar 58% van huishoudings is wat nie ʼn enkele boek besit nie.
- 1/3 van ouers vertel nie vir hul kinders stories nie en nog 50% het nog nooit vir hul kinders ʼn boek voorgelees nie.
- Verdere studie, waar 27 lande betrek is, toon dat kinders ‘n veel groter kans op sukses in die lewe het as hulle grootword in ‘n huis waar so min as 20 boeke is – SABDC (SA Book Development Council) Elitha van der Sandt – hoofbestuurder.
- Ons weet ook dat byna 80% van Graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie (PIRLS).
Syfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA), wat in Augustus 2018 uitgereik is, toon dat amper die helfte (49%) van kinders op die ouderdom van drie glad nie ’n kleuterskool bywoon nie. Amper ’n derde (29%) van vierjariges is nie in ’n kleuterskool nie, en meer as een uit tien (13%) van vyf- en sesjariges woon nie ’n kleuterskool by nie. Net ’n kwart van kinders onder die ouderdom van ses hoor elke dag ’n storie by iemand wat dit vir hulle vertel of voorlees.
“Die gevolg van swak of geen voorskoolse onderwys is dat kinders nie die nodige geletterdheid of numeriese vaardighede het wanneer hulle die skoolstelsel betree nie en vinnig uit die stelsel val sonder om ’n basiese kwalifikasie te verwerf,” sê prof. Eric Atmore, direkteur van die Centre of Early Childhood Development in Kaapstad. “Dit veroorsaak ’n bose kringloop van armoede en ongelykheid.”
Ons het besluit om Doen-en-Leer te gebruik vir verskeie redes en om hierdie leemtes te probeer vul.
Die program is geskik vir:
- Voorskoolse leerders (4 jaar en ouer)
- Leerders met uitdagings
- Die aanleer van ‘n tweede taal
- Ongeletterde volwassenes en immigrante
Uit praktiese ondervinding, oor ‘n tydperk van ongeveer 7 jaar, het die VVA ondervind dat D&L ‘n uiters geslaagde hulpmiddel is om die volgende redes:
- Die kursus word gemaklik bemeester en gebruik deur belangstellendes wat nie noodwendig onderwysopleiding gehad het nie.
- Kinders vind dadelik aanklank, want hulle ervaar binne die eerste paar minute sukses. Dit verbeter leerders se selfvertroue en veroorsaak ‘n positiewe gesindheid teenoor lees en boeke.
- Die kursus en werkboeke is volledig en veroorsaak nie ekstra werk vir die aanbieders nie.
- Doen en Leer pas in by die totale leesaanbod van die VVA:
- Voorlees
- Voorsiening van boeke
- Boekopvoeding
- Voorleeswerkswinkels
- Leeskonferensies
- Leesondersteuning
- Werkskepping
- Meertaligheid – tweede- en derdetaalsprekers
- Volwassegeletterheid
Ons sal die Doen-en-Leerprogram aan beveel vir enige leerder of persoon wat wil leer lees en wat lees- en leeruitdagings het. Hierdie program werk ook baie goed as ʼn intervensieprogram.

Chareldine van der Merwe
Vriende Van Afrikaans (VVA) Projekbestuurder